Die Vurhamispruit is 'n spruit wat in die Krokodilrivier uitmond in Mpumalanga, Suid-Afrika. Dit vloei in die suidedeel van die Krugerwildtuin, langs die Gomondwanepad tussen Onder-Sabie en Krokodilbrug. Dit is vernoem na die Tsonga-woord vir "koud".Pocket Guide to the Placenames of the Kruger National Park: Vurhami, p. 81, Floors van der Wateren (April 2018)

In Julie 1725 het Europeërs die Transvaal-gebied vir die eerste keer in hierdie omgewing betree. Die Nederlander, François de Cuiper, het die vorige maand 'n VOC-verkenningstog van Delagoabaai se fort af geloods en eers die Komati en daarna die Krokodil sowat 3 km stroomaf van die huidige Krokodilbrug oorgesteek. Terwyl die 31 manskappe langs die Vurhamispruit opgetrek het, is hulle by Gomondwane deur hoofman Dawano se stamlede aangeval, en moes na die baai terugkeer.Forefathers of Kruger National Park: The first explorers, Siyabona Africa (Pty) Ltd, 2022De Kuiper's Attack, tracks4africa.co.za De Cuiper se beoogde bestemming was Ciremandelle, die huidige Phalaborwa, en plaaslike hoofmanne sou blykbaar hul handelsroete na die binneland beskerm.

Gomondwane beteken "groot voetpad", synde 'n halte vir goudsoekers, handelaars en jagters in die verlede, en bloekombome dui nog die ligging van die winkel aan wat voor die Boere-oorlog hier gestaan het.Pocket Guide to the Placenames of the Kruger National Park: Gomondwane, p. 16, Floors van der Wateren (April 2018) Dit is ook die naam van 'n bos in hierdie area, en volgens Stevenson-Hamilton, was dit die naam van 'n persoon wat in 1906 hier gebly het.Gomondwane, Kloppers & Bornman (2005)

In die spruit is die Gezantfombidam, en hierdie Swazinaam beteken "plek waar die jong vroue bad".Pocket Guide to the Placenames of the Kruger National Park: Gomondwane, p. 15, Floors van der Wateren (April 2018)

Verwysings

Kategorie:Krokodilrivier (Mpumalanga) Kategorie:Mpumalanga Kategorie:Krugerwildtuin