Sir Thomas Muir (volle naam: Thomas Patterson Brown Muir;Geni.com. URL besoek op 12 Mei 2016. Nemphlar, naby Falls on Clyde, Lanarkshire, Skotland, 25 Augustus 1844 – Rondebosch, Kaapprovinsie, 21 Maart 1934), wiskundige en opvoedkundige. Hy was die derde superintendent-generaal van onderwys van die Kaapkolonie onder Britse bewind.
Muir het in 1892 uit sy geboorteland na die Kaapkolonie verhuis en word superintendent-generaal van onderwys, ’n amp wat hy beklee tot sy aftrede in 1915, die jaar waarin hy tot ridder geslaan is. Gedurende sy dienstyd het hy hom beywer vir skoolplig (verpligte skoolbywoning tot op 'n sekere ouderdom of in s'n sekere standerd), nuwe vakke ingestel en die leerplan verbind met dié van universiteite en kolleges. Hy het sowel nywerheids- as landbou-onderrig voorgestaan en het opleidingskolleges met die sertifikate T1, T2 en T3 gestig. Ook het hy die stigting van skoolbiblioteke aangemoedig. Sy eie boekversameling het die kern gevorm van die departement van onderwys se biblioteek. Muir was ’n briljante wiskundige. Sy versameling wiskundeboeke en -geskrifte word deur die Universiteit van Kaapstad bewaar. Schirmer, Peter. Die Beknopte Geïllustreerde Ensiklopedie van Suid-Afrika. Johannesburg: Central News Agency (Pty) Ltd. Die Hoër Seunskool Muir-kollege op Uitenhage is na hom genoem en hy het ook die vorige skoolgebou in 1904 ingewy. Die geskiedenis van Muir-kollege op sy webtuiste . URL besoek op 12 Mei 2016.
Herkoms en opleiding duimnael|links|170px|Muir as jong man. Thomas Muir was die seun van die skoenmaker George Muir, van Stonebyres, en sy vrou, Mary Brown, 'n boeredogter van Loch Lomond. George Muir het sy ambag op die dorp Biggar beoefen. Die jong Thomas verloor sy vader toe hy jonk is, maar het blykbaar baie aan sy moeder, 'n karaktervolle en bekwame vrou, te danke.
Ná 'n goeie skoolonderrig aan 'n onafhanklike skool in Wishaw, sowat halfpad tussen Biggar en Glasgow, waartydens hy buitengewone bekwaamheid in die klassieke openbaar en sy gunstelingvak Grieks was, gaan hy na die Universiteit van Glasgow, waar die beroemde William Thomson (later lord Kelvin) sy wiskundige bekwaamheid raaksien en hom dit help ontwikkel, hoewel Muir se bedoeling was om Grieks te bestudeer. In 1868 word hy 'n tutor aan die St. Andrew-universiteit en reis daarna na die vasteland, waar hy talle topwiskundiges ontmoet het. Reeds in sy jong jare het hy boeke begin versamel, 'n lewenslange passie.
Hy word in 1871 assistent van die professor in wiskunde in Glasgow en word op 'n buitengewoon vroeë leeftyd tot 'n fellow van die Royal Society van Edinburg verkies danksy die verhandelings wat hy gelewer het. Nadat hy as onderwyser opgelei is en teen 1868 die M.A.-graad (met onderskeiding) aan die Universiteit van Glasgow behaal het, studeer hy verder in Berlyn en Göttingen omdat hy besef het Europese wiskundiges het groot vooruitgang gemaak wat toe nog onbekend was in Engeland. Die Universiteit van Glasgow het in 1966 'n leerstoel in wiskunde ingestel en dit na hom genoem. Kort lewensbeskrywing op die universiteit se webtuiste . URL besoek op 13 Mei 2016.
In 1876 trou hy met Margaret Bell (oorlede in 1919), dogter van Dugald Bell van Dumbartonshire. Van 1874 tot sy aanstelling as superintendent-generaal van onderwys van die Kaapkolonie in 1892 dien hy as hoof van die departement wiskunde aan die Hoërskool Glasgow. 'n Dogter van die Muirs, dr. Nellie Spilhaus, het langer as 30 jaar in die SACS-komitee gedien en was reeds ver oor die 80 jaar oud toe sy in 1965 aftree. Whiteford, R. in Peacock, M.A. 1972. Some famous South African Schools. Volume One. English-medium boys' high schools. Cape Town: Longman Southern Africa.
Muir is in 1883 verkies tot president van Edinburg se wiskundige vereniging, wat die jaar vantevore gestig is. Sy presidentsrede is in 1884 gepubliseer onder die titel "On promotion of research". In 1882 reeds het hy "Treatise on the theory of determinants" gepubliseer en in 1890 "History of determinants", wat die eerste deel van sy vyfdelige lewenswerk sou word.
Koms na Suid-Afrika Cecil John Rhodes, eerste minister van die Kaapkolonie, het op een van sy periodieke besoeke aan Brittanje 'n onderhoud met Muir gevoer en hom vir die amp van superintendent-generaal van onderwys gekies. Destyds moes Muir besluit of hy 'n aanbod sou aanvaar om voorsitter van wiskunde aan die Standford-universiteit in Kalifornië te word. Hy sou dit bes moontlik aanvaar het as Rhodes hom nie genader het nie. Buiten Rhodes se oorredingsvermoë is Muir waarskynlik ook beïnvloed deur die vooruitsig van 'n verbetering in sy vrou se gesondheid in die heilsamer klimaat aan die Kaap.
Kort ná die aanvaarding van die amp in Kaapstad, waar hy op 20 Mei 1892 geland het, stel Muir wyslik deur middel van sy skoolinspekteurs 'n reeks uitgebreide ondersoeke in – 'n voorvereiste vir die instelling van skoolplig – na die onderwysgeriewe in die kolonie, en verkry veral waardevolle gegewens in verband met plattelandse gebiede wat op onderwysgebied nog 'n groot agterstand gehad het.
Verbeterings aan die Kaapse onderwys duimnael|links|200px|Uniewording, wat hier afgekondig word in die eerste Staatskoerant van die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910, het min verandering gemaak aan Muir se amp. duimnael|230px|Muir het die skoolgebou van die Queen's College op Queenstown amptelik in 1898 geopen.
Aangesien die Kaapse onderwysstelsel veel te wense oorgelaat het ná die lang ampstermyn van sy voorganger, sir Langham Dale, begin Muir met ywer hervormings instel, waaraan daar reeds lank 'n behoefte was. So brei hy die organisasie van sy departement uit en verbeter dit grootliks; hy vergroot ook die inspektoraat, 'n noodsaaklike stap op 'n tydstip toe die grootste gedeelte van die onderwys vir alle rasse in die kolonie op 'n stelsel van ondersteunde skole en jaarlikse inspeksie van individuele leerders gegrond was. Baie onderwysers word uit Brittanje ingevoer, veral gegradueerdes uit Skotland. Nadat hy sy eie posisie as superintendent-generaal van onderwys voldoende verstewig het, oorreed hy die Kaapse regering in 1905 om 'n stelsel van statutêre (distriks-) skoolrade, hoofsaaklik deur verkiesing, in te stel met die bevoegdheid om 'n onderwysbelasting te hef en om plaaslik oor die onderwys toesig uit te oefen, hoewel altyd aan sy departement onderworpe. 'n Belangrike funksie wat ook aan die skoolrade toegewys sou word, is dié van plaaslike ontwikkeling en beplanning. 'n Skema van aflosbare lenings word ook ingestel ingevolge waarvan 'n skoolraad kapitaal kon kry vir die oprigting van skole; baie van die mooi geboue wat as gevolg daarvan opgerig is, is vandag nog in gebruik.
Deur die bestaande skoolkomitees by die stelsel van skoolrade in te skakel, versterk Muir die tradisionele Kaapse beleid van 'n lewendige plaaslike belangstelling in onderwys. Met die doel dat die skoolrade as middel moet dien tot die instelling van 'n mate van skoolplig vir wit kinders, ondanks die geldskaarste in die kolonie, stuur Muir in 1909 'n proefneming in die groter stedelike gebiede van stapel: skoolplig tussen die ouderdomme van sewe en 13 (of slaag in st. IV), en binne 'n jaar aanvaar drie kwart van al die rade hierdie verantwoordelikheid vrywillig.
Muir het gemeen met die beperkte beskikbare finansies was dit belangrik dat die wit bevolking minstens 'n minimum aan onderwys moes ontvang. Hy bly superintendent-generaal tot 1915.
Uniewording in 1910 het min verskil aan sy amp gemaak aangesien die gewone skoolonderwys vir wit, bruin en swart leerders onder die beheer van die Kaapse provinsiale administrasie geressorteer het wat in hierdie aangeleenthede bloot die erfgenaam van die Kaapkolonie se regering voor Uniewording was. Van toe af moes Muir egter werk onder 'n sterk, outokratiese provinsiale administrateur, sir Frederik de Waal, waardeur sy ondernemingsgees effens aan bande gelê is. Hoewel die skoolrade in 1917 hul heffingsbevoegdheid verloor het en daarmee noodwendig baie van hul gesag moes inboet, het hulle reeds die belangrike doelwitte bereik waarvoor hulle in die lewe geroep is.
Muir het belangrike werk verrig deur die leerplan van die laerskole uit te brei sodat dit voorsiening maak vir die onderrig in gesamentlike sang, naaldwerk, houtwerk, tekenkuns en natuurstudie. Sedert die vroeë jare van sy ampsaanvaarding het hy instrukteurs en instruktrises in hierdie vakke, asook in huishoudkunde, aangestel; hierdie reisende buitepersoneel besoek in sommige gevalle sowel die sekondêre as die primêre klasse. Kindertuininstruktrises is ook aangestel met die doel om onderwyseresse, wat oor die algemeen nie te hoë kwalifikasies gehad het nie, te help om in meer toereikende mate hierdie nuwe toevoegings tot die leerplan, wat dekades 'n kenmerk van die Kaapse onderwysstelsel sou bly, te behartig.
Skoolinspekteurs het ook opdrag gekry om te sorg dat vakke wat nie ingesluit is by die st. VI-eksamen nie, tog behoorlike aandag geniet. Van 1899 af begin Muir, wat insgelyks moeite gedoen het om die sekondêre onderwys te ontwikkel, suksesvolle skole as “hoërskole” gradeer en ’n groter personeelkwota aan hulle toe te ken sodat kandidate beter op matrikulasie voorberei kon word. Skoolonderrig in die natuurwetenskap is deur hom ingestel en veral praktiese werk aangemoedig deur geld vir laboratoriums en toerusting beskikbaar te stel. Goeie akademiese standaarde in alle matrikulasievakke is ook aangemoedig, en die groot aantal gegradueerde onderwysers wat oorsee gewerf is, blyk van onskatbare waarde in hierdie verband te gewees het. Oor die algemeen kan daar gesê word dat Muir se onderwysstelsel, veral op sekondêre vlak, meer op die Skotse as op die Engelse lees geskoei was.
Muir help nie net die ontwikkeling van skoolbiblioteke aan nie, maar stig ook aan sy hoofkantoor 'n uitleenvakbiblioteek vir onderwysers. Vanaf 1901 gee hy die Onderwysgaset uit, waardeur dit moontlik gemaak is om departementele opdragte en inligting van belang en waarde vir onderwysers deur die hele Kaap te versprei. Dit dien ook as kostelose advertensiemiddel vir onderwysposte, iets waaraan toe 'n groot behoefte bestaan het.
Naas die werk om sy departement se doeltreffendheid te verhoog, was Muir se belangrikste prestasie waarskynlik die verbetering van die professionele kwalifikasies van die onderwysers. Toe die nadruk wat hy op die opleiding van onderwysers lê in twyfel getrek word met die opmerking dat onderwysers gebore en nie gemaak word nie, was sy antwoord dat die geboortesyfer te laag is om in die aanvraag te voorsien. By sy ampsaanvaarding word alle primêre onderwysers as leerling-onderwysers gewerf – 'n stelsel wat deur sy voorganger, Dale, uit Brittanje ingevoer is: die toelatingskwalifikasie tot die kursus vir leerling-onderwyser is 'n ouderdomsperk van 13 jaar en 'n goeie karakter. Hy eis nou dat die betrokke aansoeker in st. IV moet slaag en verhoog hierdie kwalifikasie geleidelik tot st. VII. Insgelyks is die toelatingskwalifikasie vir 'n tweedeklas-onderwysersertifikaat (02) van “skoolhoër” (st. VIII) tot matrikulasie (st. X) verhoog, terwyl hy ook die beleid om gegradueerdes op te lei as sekondêre onderwysers aan die Suid-Afrikaanse Kollege (vanaf 1911) gesteun het.
Intussen het Muir, wat sterk gevoel het dat 'n breë en meer veelsydige opleiding van primêre onderwys raadsaam was, tussen 1893 en 1896 drie opleidingskolleges gestig: in Kaapstad, op Wellington en in Grahamstad; nog sou later volg. Hy het ook die onderwysers met beter kwalifikasies toegelaat om privaat te studeer (met 'n mate van departementele leiding in die vorm van 'n leerplan en boekelyste) en om daarna 'n departementele eksamen vir 'n eerste- of tweedeklas-onderwysersdiploma (01, 02) af te lê.
Wiskundige